
Die 1914 Rebellie was die direkte gevolg van die leuens wat vrylik verkondig was deur hoofsaaklik Botha en Smuts, asook die Britse onderhandelaars by die vredes samesprekinge te Vereeniging. Dit was ‘n voorwaardelike ooreenkoms wat bepaal dat die vryheid van die twee Boere Republieke so spoedig moontlik aan hulle terug besorg sou word. Oor hierdie vals beloftes het die meeste van die Boereleiers teenwoordig hulle laat ompraat om dan die vrede te sluit. Min het hulle geweet dat hulle die Boervolk uitverkoop aan absolute armoede, Britse huigelary en gewetenlose joiners soos Smuts en Botha. Twaalf jaar na die bedrog van 31 Mei 1902, sien die Boereleiers die geleentheid om hulle verlore vryheid terug te win en begin hulle met ‘n veldtog wat aanvanklik ‘n vreedsame protes was, maar wat later oorkook in ‘n gewapende protes na die Koloniale Unie Parlement besluit om Duits Suid-wes-Afrika in te val.
Dit is belangrik om daarop te let dat die Boereleiers nie die 1910 Uniewording beskou het as die nakoming van die voorwaardes van Vereenging nie. Inteendeel beskou die Boervolk Uniewording as opsetlike bedrog van die Britse Koningshuis en Parlement om die voorwaardes van Vereeniging te omseil.
Daar word in 1914 ‘n proklamasie te Kakamas uitgereik wat dit duidelik stel dat die opstand is “ tegen di ongewilde en opgedwonge Britsche heerskappij”, en die Boereleiers “sal aan het volk van Zuid-Afrika de lang ontbeerde vrijheid, die ons voor twaalf jaaren geleden door Engeland ontroof werd, weer terug geven”.
Daarna sluit Gen Manie Maritz op 17 Oktober 1914 ‘n ooreenkoms met die Keiserlike Goewerneur van Duits Suid-wes-Afrika waarin hy die Boervolk se onafhanklikheid verklaar.
”Genoemde Generaal S.G. Maritz heft de onafhankelikheid van Zuid-Afrika verklaart en de stryd tegen Engeland aangevangen”.



GENL. MARITZ: OOREENKOMS MET DIE DUITSERS
Rebellie van 1914
Toe generaal S.G. Maritz op 17 Oktober 1914 hierdie ooreenkoms met die Duitsers van Duits-Suidwes-Afrika aangegaan het, het daar nog ’n sterk moontlikheid bestaan dat die bepalings daarvan deur beide partye uitgevoer kon word. Teenstand teen generaal Louis Botha se besluit om Brittanje in die Eerste Wêreldoorlog te steun, asook sy plan om Duits-Suidwes-Afrika binne te val, het vinnig toegeneem en aanleiding gegee tot die Rebellie van 1914.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die Unie van Suid-Afrika weinig ruimte gehad om Brittanje se versoek om Duits-Suidwes-Afrika binne te val, te weier. Brittanje het van die Unie verwag om die Duitse hawens aan die weskus, sowel as Windhoek, te beset en die Duitse radiosenders buite werking te stel.
Louis Botha het ingestem, en die Unie-Volksraad het hom met 92 stemme teenoor 12 gesteun. Generaal Koos de la Rey was sterk gekant teen hierdie besluit. Veral in die Vrystaat en Wes-Transvaal het groot ontevredenheid oor die regering se optrede geheers. Minder as ’n jaar tevore, op 16 Desember 1913, is die Vrouemonument in Bloemfontein onthul ter nagedagtenis aan die duisende vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in Britse konsentrasiekampe gesterf het. Vir baie Boere was dit ondenkbaar om nou aan Brittanje se kant te veg.
Generaal C.F. Beyers, hoof van die Unieweermag, het uit protes sy pos bedank. Generaal De la Rey het die burgers van Lichtenburg opgeroep om op 15 Augustus 1914 byeen te kom. Tydens die vredesonderhandelinge van Vereeniging in 1902 het Botha glo aan De la Rey en De Wet belowe dat die onafhanklikheid van die voormalige Boererepublieke by die eerste geleentheid herstel sou word. Hierdie belofte het steeds sterk in hul gedagtes geleef.
Op 15 September 1914 het De la Rey saam met Beyers vanuit Pretoria per motor vertrek op pad na Potchefstroom via Johannesburg om militêre sake te bespreek. By ’n padblokkade naby Langlaagte het die motor nie stilgehou nie, waarna die polisie losgebrand het. Generaal De la Rey is dodelik gewond en het in Beyers se arms gesterf. Die padblokkade was volgens berigte opgerig om ’n rowerbende vas te trek, maar baie mense het geglo dat De la Rey doelbewus doodgeskiet is.
Duísende roubeklaers het sy begrafnis op Lichtenburg bygewoon, en sy dood het wydverspreide ontsteltenis veroorsaak. In Wes-Transvaal en die Noord-Vrystaat is oproerige vergaderings gehou. Gen J.C.G. Kemp en luitenant-kolonel S.G. Maritz het by die verset aangesluit. Kemp was in bevel van ’n opleidingskamp by Potchefstroom en Maritz van een by Kakamas.
Op 20 Oktober 1914 het Maritz met sy manskappe die grens na Duits-Suidwes-Afrika oorgesteek en hom by die Duitsers aangesluit. Daarmee het hy openlik teen die regering gerebelleer. Botha het reeds op 12 Oktober krygswet afgekondig en die Afrikaner troepe opgeroep om die rebellie te onderdruk.
Ontevrede burgers in die Vrystaat en Transvaal het toe hul eie kommando’s gevorm. By Kopjes is op 22 Oktober 1914 besluit dat generaal Christiaan de Wet die leiding in die Vrystaat sou neem en generaal Beyers dié in Transvaal. Binne enkele dae was feitlik die hele Noord-Vrystaat in rebellehande, terwyl Wes-Transvaal ook in opstand verkeer het.
Die rebellemagte het uit sowat 7 000 man in die Vrystaat, 3 000 in Transvaal en ongeveer 2 000 in die Kaap bestaan. Generaal De Wet het weswaarts beweeg met die doel om by Maritz aan te sluit, maar is uiteindelik op 1 Desember 1914 naby Kuruman gevange geneem nadat die meeste van sy ondersteuners hom verlaat het.
Generaal Beyers se magte is herhaaldelik aangeval en uitmekaar gedryf terwyl hy vanuit Wes-Transvaal na die Vrystaat beweeg het. Hy en ’n klein groepie volgelinge is deur regeringstroepe agtervolg. Tydens ’n poging om deur die Vaalrivier te swem om hul agtervolgers te ontkom, het Beyers verdrink — hoewel baie geglo het dat hy deur ’n koeël getref is.
Met Beyers dood en De Wet in gevangenskap was die rebellie in die Vrystaat en Transvaal grootliks onderdruk. In die omgewing van Pretoria het enkele rebelle egter steeds hardnekkig weerstand gebied en swaar verliese aan regeringstroepe toegedien.

Hul leier, Jopie Fourie, het nie sy kommissie as weermagoffisier neergelê voordat hy by die rebelle aangesluit het nie. Ná ’n hewige geveg het hy op 16 Desember 1914 die wapen neergelê. Fourie is voor ’n krygshof gebring, skuldig bevind aan hoogverraad en ter dood veroordeel.
Verskeie Afrikanerleiers het gepleit vir genade en versagting van die vonnis, maar sonder sukses. Jan Smuts, die hanskakkie en minister van verdediging, het geweier om aan die versoeke gehoor te gee. Op Sondagoggend, 20 Desember 1914, is Jopie Fourie deur ’n vuurpeloton tereggestel.

Overeenkomst
Gemaakt en aangegaan door en tussen de Keizerlijke Governeur van Duits Zuid WestAfrika, als vertegenwoordiger van zyn Ge-eerbiedigde Majesteit, de Keizer van Duitsland,en Generaal S.G.Maritz die namens en ten behoeve van een aantal Ofīcieren en manschappen handelt die bereid zyn de onafhanelikheid van Zuid-Afrika te verklaren, teweten:-
1. Genoemde Generaal S.G. Maritz heft de onafhankelikheid van Zuid-Afrika verklaart en de stryd tegen Engeland aangevangen.
2. De Regierung van D.ZW.Afrika erkent alle Afrikaanse Strydmchten die tegen Engeland optreden als Oologsvoerende Machten aan en zal ze, na verdere bespreking in de stryd tegen Engeland ondersteunen
3.Wordt dat tot nu Brits Zuid-Afrika gedeeltelik of als een geheel onafhankelik zal de Keizerlijke Goeverneur van D.Z. W.Afrika alle middelen aanwenden om die staat of Staten zo spoedig mogelik door het Duitse Ryk als zodanig erkendte krygen en ze te laten vallen onder de algemene vrede-sluiting.
4. In kosideratie voor zodanige verleende hulp zullen de nieuw gevormde staat of Staten geen bezwaar maken als het Duitse Ryk Walvis-Baai en de Eilande die geven over D.ZW.Afrika liggenin bezit nemen.
5. Het Dalweg van de Oranje Rivier zal in die toekomst de grenzen vormen tussen D.Z.W. Afrika en de Kaap Kolonie.
6.De Duitse Ryk zal geen bezwaar maken als genoemde Staten Delagoa Baai in bezit nemen.
7.Als de opstand op een mislukking uitloopt zullen de opstandelingen die sich op Duitse Gebietbegeve als Duitse Bundgenoten aangezien en als zulks behandeld woorden
.Aldus gedaan en getekend to Kaimoesop de 17de Oktober 1914.
Get. S.G. Maritz.
B.von Zastrow, Keizerl. Bezirksamtmannals vertegenwoordiger van de Keizerlijke Goeverneurvan Duits Zuid West Afrika
OOREENKOMS
Aangegaan deur en tussen die Keiserlike Goewerneur van Duits Suid-Wes-Afrika, as verteenwoordiger van sy eerbiedwaardige Majesteit, die Keiser van Duitsland,en Generaal SG Maritz, wat namens en ten behoewe van ‘n aantal offisiere en manskappe handel, wat bereid is om Suid-Afrika onafhanklik te verklaar, te wete:
1. Generaal SG Maritz het Suid-Afrika onafhanklik verklaar en die stryd teen Engeland begin.
2. Die Regering van Duits Suid-Wes-Afrika erken alle Suid-Afrikaanse strydmagte wat teen Engeland veg, as oorlogvoerende magte en sal hulle na verdere ooreenkoms teen Engeland ondersteun.
3.Indien hulle daarin slaag om Brits Suid-Afrika geheel of gedeeltelik onafhanklik te proklameer, sal die Keiserlike Goewerneur alle middels aanwend om hierdie staat of state so spoedig moontlik deur die Duitse Ryk erken te word en aan die algemene vredesluiting deel te neem.
4.In agneming van sodanige verleende hulp, sal die nuwe staat of state geen beswaar hê indien die Duitse Ryk Walvisbaai en die eilande wat teenoor Duits Suid-Wes-Afrika lê, inbesit neem nie.
5. Die Dal-pad van die Oranjarivier sal in die toekoms die grens vorm tussen Duits Suid-Wes-Afrika en die Kaap.
6.Die Duitse Ryk sal nie beswaar maak indien die nuwe staat Delagoabaai in besit neem nie.
7. As hierdie opstand misluk, mag die opstandelinge vir asiel na Duitse gebied vlug, waar hulle as Duitse bondgenote behandel sal word.
Aldus gedaan en geteken te Keimoes op die 17e Oktober 1914.
Geteken:SG Maritz
B von Sastrow,Keiserlike Magistraat, as verteenwoordiger van die Keiserlike Goewerneur vanDuits Suid-Wes-Afrika.
