Wie en wat is ‘n Afrikaner

Die woord Afrikaner het sy ontstaan gekry rondom die 1870’s in ‘n poging van die Kaapse koloniale regering om die kloof wat ontstaan het tussen die Blanke Afrikaans en Engelssprekende gemeenskappe te oorbrug. Die woord Afrikaner het dus alle Blanke mense van die Kaapkolonie ingesluit, Afrikaans en Engels. Jan Hofmeyer wat die leier was van die politieke party genaamd die ”Afrikanerbond” en wat ook “Meester van die Nederlandse Losie” in die Kaap was, het hom beywer vir die versoening tussen die twee groepe. Die poging het maar min aftrek gekry en het die term Afrikaner eers weer in 1910 met Uniewording sterk na vore gekom.

Die betekenis het ook toe meer klem gelê op alle Afrikaanssprekende mense wat toe saam geforseer was uit die verskillende provinsies. Dit moes dan insluit die Bittereinders van die Boere Republieke, wat nooit onder ‘n Britse juk sal trek nie, tot die Kaapse liberalis (Cape Dutch) wat geen idee het wie en wat hy is nie, en alles tussenin.

So het die”Cape Dutch” wat geen probleem gehad het met Britse oorheersing en of huwelike oor die kleurgrens heen, hulleself nie tuis gevoel by die groep Afrikaanssprekende mense van die Vrystaat en Transvaal nie, en het Afrikaner al meer die betekenis begin kry van ‘n Nasionalisties gedrewe konserwatiewe blanke persoon wat hunker na selfbeskikking. Dit is dan ook die idee wat die meeste blanke mense wat homself identifiseer as ‘n Afrikaner, van homself het. Die soort hoort by die Boere maar meer as 120 jaar se misleiding het ons arme mense nou so in ‘n warboel dat hulle dink hulle is Afrikaners.

Ongelukkig het die leiers van die Afrikaners verleiers geword, en het die volgende definisie van wat ‘n Afrikaner is die lig gesien in ‘n dokument wat voor die hof geplaas was met die stigting van die Tabok Trust, en wat ‘n Afrikaner dan sal definieer. Hierdie definisie was nooit teengestaan nie en dien dan as die amptelike beskrywing van ‘n Afrikaner. Ook beskryf die HAT ‘n Afrikaner as ‘n persoon wat Afrikaans is deur geboorte of afstamming. Volgens die Tabok Trust word ‘n Afrikaner as volg beskryf:

“AFRIKANER beteken ‘n protestants Christelike persoon van Europese afkoms wat ‘n Christelik volkseie lewens- en wêreldbeskouing handhaaf en wat ‘n taal en kultuur wat eie is aan die Afrikanervolk handhaaf.”

Op die oog af lyk dit goed en reg, maar by ontleding val dit uitmekaar.

  1. As jy kyk na Europese afkoms lyk dit of daar bedoel word ‘n Blanke persoon, maar dit is opsetlik misleidend. Alle kleurlinge is ook van Europese afkoms, en moet dus volgens die definisie ingesluit word by wat as ‘n Afrikaner beskou word.
  2. Die kleurlinge en die blanke afrikaanssprekende mense deel nie dieselfde kultuur nie, en kan dus nie as een Volk beskou word nie.
  3. Die Afrikaner was nog nooit erken as ‘n internasionale soewereine Volk nie, en daarom kan hulle nie aanspraak maak op Volkereg nie.
  4. Jy kan nie die woord wat jy definieer in jou definisie gebruik nie.

En hier kom ons dan ook by die probleem van die ATKV en al die ander Afrikaanse kultuur organisasies wat deur die verleiers gekaap of geskep is. Die doel van die stigters van die organisasies was dat die Afrikaanssprekende Blanke se kultuur en taal uitgebou moes word, maar ook bewaar en  behoue bly. Egter het dit nou verval tot slegs die taal wat jy praat. Ons kan ‘n Afrikaner dus as volg beskryf:

“Die Afrikaners is ‘n kultuurgroep wat in Afrika ontwikkel het met Europese kultuur gebruike en die Afrikaanse taal as hulle basis. Hulle is van Europese en of gemengde herkoms en streef na erkenning as ‘n onafhanklike nasie en beskou hulleself nie as Boere nie, soos gesien in uitsprake van die Ruiterwag en Broederbond selfs voor 1994.”