Wie en wat is ‘n Boer

Eers sal ons moet gaan kyk waar kom die Boervolk vandaan en hoe het ons gekom tot waar ons kan sê ons is ‘n Volk. Brittanje het die Kaap beset in 1795 en weer in 1806. Van die begin af was daar ernstige wrywing tussen die Hollandse, Franse en Duitse inwoners, en die selfaangestelde filantropiese Britse regering met hulle Londonse sending genootskapsendelinge wat nooit iets goed te sê het vir enige soort van Blanke nie, en op die aarde geen fout kon vind met ‘n inboorling wat moor, steel en plunder nie. Dit het gelei tot die fiasco by Slagtersnek en daarna die Groot Trek.

Die eerste samekoms in die landstreek anderkant die Oranje rivier was by Blesberg, die huidige  Thaba Nchu. Hier is die eerste regering van die nuwe Vrye staat gekies op 2 Desember 1836 waarop al die trekboere dan burgers geword het van die nuwe vry staat. Dit was dan ook die Geboorte van die Boervolk, en was hulle bevry van Britse onderdaanskap. Dit is ook belangrik om op te let dat daar geen predikant van enige kerkverband hulle by die Groot trek aangesluit het nie. Inteendeel, het die Nederduits Gereformeerde kerk die vloek uitgespreek oor die Trekboere, wat tot op hede nog nie herroep is nie. Die vrye BOERVOLK het hulle toe gaan vestig by die huidige Winburg. Retief en sy mense is af oor die Drankensberge waar hulle grond koop by Dingaan. Die gebied het gestrek van die Mzimvubu rivier tot by die Tugela rivier. Nadat die koopbrief bevestig was, is Retief en sy geselskap vermoor op 6 Februarie 1838 en daarna vind die moorde op Bloukrans en Boesmansrivier plaas. Laer word getrek by Bloedrivier en die gelofte word afgelê. Dingaan word MILITÊR verslaan en vlug na die huidige Maputo. Hy keer later terug en word deur die gesamentlike magte van Pretoruis en Mpande vir ‘n tweede keer militêr verslaan, en die gebied tussen die Tugela rivier en die Swart Umfolozi word geneem as betaling vir die skade aangerig deur Dingaan.

Pietermaritzburg word gestig as Hoofstad van al die boergrond en land. Winburg en Potchefstroom word Landrosdistrikte van Pietermaritzburg en Port Natal is die hawe van die Boervolk. Dit is belangrik om daarop te let dat daar geen grense bestaan het tussen die Vrystaat Transvaal en Natal nie, en dat dit een gebied was met een Volksraad te Pietermaritzburg.

Die Koloniale Britse regering in die Kaap weier om die Boere se onafhanklikheid te erken. Hoekom die Boere so graag die Britse goedkeuring gesoek het gaan mens se verstand te bowe, en het die Britte weereens met agterbakse hakskeenbyt taktiek die nuwe Boere Republiek van Natalia in 1843 gekoloniseer. Transvaal verklaar hulle onafhanklik van Pietermaritzburg en stig hulle eie Boere Republiek oorkant die Vaalrivier te Potchefstroom wat later oorskuif na Ohrigstad. Winburg word noodgedwonge die nuwe Hoofstad van die Vrystaat waarna dit later oorgaan na Bloemfontein. Die Britse regering annekseer die Vrystaat in 1848 na die slag van Boomplaats.

Die Britse regering gee aan die Zuid Afrikaans Republiek hulle grond en land terug in 1852 met die Sandrivier konvensie. Dit word opgevolg met die Bloemfontein konfensie in 1854 waarmee die Boervolk van die Republiek van die Oranje Vrijstaat ook sy onafhanklikheid en soewereiniteit kry. Beide die Vrijstaat en Transvaal word erken as twee onafhanklike soewereine Volke met hulle eie grondgebied, permanente bevolking, vlag en eie geldstelsel, ook bepaal hulle hul eie buitelandse beleid. Die Boere Republieke word Internasionaal erken en vestig ambassades in Amerika, Holland, Belgie, Frankryk, Duitsland en Engeland.

Wat is dan die Boervolk se Regte volgens die VN se handves en ook Internationale wet.

  1. Die Reg om oor onsself te regeer binne ons eie grondgebied en land.
  2. Alle onafhanklike volke word as gelyk beskou onder Internasionale reg ongeag hulle populasie getal.
  3. Die Reg om te mag bestaan as ‘n Politieke entiteit en die Reg om onsself te mag beskerm teen aggressie.
  4. Die Reg om ons eie Kulturele, Sosiale, Ekonomiese en Politieke sake te beheer sonder inmenging van buite.
  5. Die Reg op ons eie Jurisdiksie.
  6. Die Reg om ons eie Buitelandse beleid te bepaal en Diplomatieke bande te sluit.
  7. Die Reg om ons eie hulpbronne te bestuur.

Goud en diamante word ontdek in die Boere republieke en die Britse Imperialiste raak totaal van hulle loodjie getik. Oorlog word verklaar in 1899, en die oorlog word in 1902 gesluit met die Vrede van Vereeniging, waarin daar ooreengekom word dat ‘n tydelike Britse militêre administrasie oor die twee Boere republieke sal regeer, maar dat hulle so gou as moontlik by die eerste geleentheid hulle onafhanklikheid sal terugkry. Brittanje verbreek die voorwaardes van die vredesooreenkoms en die Republieke se onafhanklikheid word nooit aan hulle terug gegee nie. Ja dit was dwaas om die Engelse op hulle woord te vat. Huidiglik word daar uit alle politieke oorde verkondig dat die Boere hulle Vryheid of by Uniewording, of met die 1948 verkiesing, of dan met Republiekwording terug gekry het. Britse propaganda wat deur die Afrikaners en hoofstroom Media versprei word.

Die lewende mens wat tot die Boervolk behoort kan dus beskryf word as:

‘n Blanke persoon wie se voorouers deel was van die Groot Trek, die Gelofte van Bloedrivier en of burghers was van een van die Boere Republieke en wie se voorouers aktief end-uit teen Britse oorheersing geveg het en wat homself as deel van die Boervolk beskou. Asook geassimileerde blanke immigrante wat hulle vereenselwig met die Boervolk en sy vryheidstrewe, kultuur en wette.